In ‘n hoofberig op die voorblad van Rapport van Sondag 2 Oktober berig die koerant dat “…die Valke ondersoek die moontlikheid dat ‘n sindikaat toegang tot Absa-kliȅnte se rekeninge gekry het en besig is om miljoene rande van hulle te steel”. Ons firma handel tans met die saak van so ‘n slagoffer – lees hier onder. Die koerant opper die volgende ontstellende vraag in ‘n grafiese voorstelling neffens die berig : Is dit ‘n misdaadtoneel?
Lees die volledige berig hier: http://media24.newspaperdirect.com/epaper/viewer.aspx
Die koerant berig dat Absa- kliȅnte reeds van miljoene beroof is deurdat die geheime inligting van kliȅnte se rekenings, soos toegangskodes, in die hande beland het van misdadigers. In een geval is meer as R5miljoen gesteel van ‘n ouetehuis. Die bank beweer dat die kliȅnte slagoffers is van sogenaamde “phishing” waar misdadigers kliȅnte uitlok om van vals webruimtes gebruik te maak wat lyk soos die bank se webruimte en dan die kliȅnte se inligting bekom. Kliȅnte se selfoon simkaarte word gekaap sodat hulle nie van die onttrekkings in kennis gestel word nie. Die kliȅnte wat slagoffers is, ontken egter dat hulle verantwoordelik is vir die uitlek van hulle inligting. Die bank haal net sy skouers op.
Die kommerwekkende ontwikkeling in die sage is die feit dat Absa in baie gevalle bloot die kliȅnt 50% van sy verlies aanbied, na bewering in ruil vir sy of haar “stilwsye”.
Ons firma het eerstehandse kennis van so ‘n slagoffer. Ons kliȅnt is beroof van ongeveer R1 900 000. Dit het gebeur op ‘n Sondag terwyl sy en sy vrou se selfone se simkaarte sonder hulle medewete of toestemming vervang is. Die gevolg is dat hulle nie van die onttrekkings in kennis gestel is nie. Die geld is uit ‘n verbandfasiliteit onttrek. Daar was ‘n R900 000 balans fasiliteit beskikbaar op die verband. Toe die kliȅnt die bank die Maandag na die voorval nader, is dit ondersoek en die bank het ongeveer R1 miljoen terugbetaal maar geweier om die bedrag van R972 000,00 wat beskikbaar was op die rekening, terug te betaal. Al die geld is deur die skurke in verskeie rekeninge van Capitec Bank betaal. Dieselfde patroon blyk uit die Rapport berig wat ander slagoffers betref. Absa Bank weier egter om Capitec Bank se hantering van die rekeninge op te volg met allerlei verskonings oor bankparktyke. Die ironie van ons kliȅnt se tragedie is dat hy nou sit met ‘n verbandskuld wat hy nie gehad het nie en waarop die bank lustig maandeliks rente hef.
Verskeie angswekkende scenarios doen hulle voor : Waarom word die Capitec inligting nie vrygestel nie? Waarom tree Absa nie op om al die geld van ons kliȅnt byvoorbeeld, te verhaal nie? Word Capitec Bank se kliȅnte gefica? Waarom is daar in klaarblyklik alle gevalle ook selfoon simkaart vervalsings? Kan dit toevallig wees, of is hier sprake van ‘n grootskaalse sindikaat binne die selfoonbedryf en Absa bank en/of ander banke?
Die afgelope twee weke adverteer Absa Bank fanaties op verskeie DSTV kanale. Die nou reeds bekende robot advertensie. Letterlik miljoene rande word aan advertensiegeld spandeer. Waarom nou skielik? En wie betaal daarvoor? Gaan Absa se kliȅnte uiteindelik deur verhoogde bankkoste vir die advertensie-veldtog betaal?
Is dit nog veilig by Absa? Dit is die vraag.